Dankie Bloemfontein! | Toyota Cheetahs

Vrystaat Rugby sê dankie vir elkeen van die 43 211 toeskouers wat Saterdag die toets tussen die Springbokke en Wallis in die Toyota-stadion bygewoon het.  Dit was ongelooflik om die stadion so vol te sien en die atmosfeer in die stadion te beleef.

Ons is dankbaar vir elke borg, diensverskaffer, personeellid en vriend van Vrystaat Rugby wat hierdie dag moontlik gemaak het. Dit het reuse-organisasie en spanwerk geverg om al die reëlings te tref en te verseker dat alles so glad as moontlik verloop.

‘n Spesiale woord van dank aan al ons mediavriende, met spesifieke verwysing na OFM (amptelike media vennoot), Volksblad en Media 24, Radio Rosestad, MedFM, sonder wie se blootstelling die dag en die kommunikasie van reëlings nie so ‘n groot sukses sou wees nie.

  

Ons bedank ook die owerhede, waaronder die polisie, verkeer, nood en ramp, Centlec en Mangaung Metro, vir hulle hulp en bystand met dienste.

Ten slotte dankie aan al die diensverskaffers soos hotelle en restaurante in Bloemfontein. Die honderde Walliese ondersteuners wat die toets bygewoon het, het ná die wedstryd gesê geen stad in die land hou by die Rosestad kers vas wanneer dit by gasvryheid kom nie.

Ons is trots daarop dat die Vrystaat Cheetahs (Edms). Bpk. ‘n positiewe bydrae tot Bloemfontein se ekonomie kon maak.  

Ross van Reenen, Hoof Uitvoerende Beampte van die Vrystaat Cheetahs (Edms) Bpk.